Produsente behaal ongelooflike suksesse

Laeveld Agrochem

Produsente behaal ongelooflike suksesse

Sedert ons vorige artikel in SA Graan/Grain (Julie 2011), het Zinchem ongelooflike terugvoer en belangstelling gekry vanaf kliënte en verskaffers van landbou-insette in die mark.

Daar was veral baie navrae oor hoekom Zinchem se nuwe multimikro- reeks ondersteun behoort te word. Die antwoord is soos volg: Zinchem is jou een-stop-verskaffer van essensiële mikro-elemente.

Ons verskaf aan kliënte al ses die essensiële mikro-elemente met ons multimikro-reeks, wat bestaan uit sink, koper, mangaan, yster sowel as boor en molibdeen. Ons grondtoedieningsprodukte is ook verryk met humate. Die multimikro-reeks verskaf ‘n unieke formulasie van die ses essensiële mikro-elemente, wat klaar reg vermeng is vir die produsent se behoefte. Kliënte kan, indien dit ekonomies vir ons sin maak, ook hul eie unieke formulasie vir Zinchem gee om vir hulle te vervaardig.

Kliënte kan verwag dat ons produkte aan die hoogste kwaliteit standaarde voldoen, aangesien ons ISO 9001 gesertifiseer is, wat beteken ons voldoen aan internasionale standaarde ten opsigte van produkkwaliteit. Kliënte kry dus suiwer produkte wat nie gekontamineer is met skadelike elemente nie. Zinchem is ook ISO 18000 gesertifiseer vir omgewingsbestuur. Ons kan die volle vloei van grondstowwe monitor deur ons vervaardigingsproses en ons besoedel ook nie die omgewing tydens die vervaardiging van ons produkte nie.

Die produkreeks is hoogs gekonsentreerd, ons produkte word in gramme en nie in milligramme soos meeste produkte op die mark geformuleer nie, wat ook een van die redes is waarom ons produkte so bekostigbaar is.

Die hele reeks produkte is wateroplosbaar, wat belangrik is aangesien plante hulle voedingstowwe drink en nie kou nie. Die produkte kan opgelos word en toegedien word deur besproeiingstelsels, drupperstelsels sowel as met trekkerspuite – ons nuwe rygewas multimikro-produk kan ook met ons mikro-elemente grondtoediener in die plantevoor toegedien word.

Sekere van Zinchem se produkte kan gebruik word om droë kunsmis te bedek en kan in sekere vloeibare kunsmismengsels ingemeng word. Produsente kan hul kunsmisverskaffers vra oor die gebruik van Zinchem se mikro-elemente op of in hul produkte. Die maatskappy beskik oor ‘n groot verspreidingsnetwerk. Ons produkte is tans beskikbaar by ons agente sowel as Afgri, Senwes, Kaap Agri, Laeveld Agrochem en van die kunsmisverskaffers.

Ons werk saam met verskeie kunsmisvervaardigingsmaatskappye om hulle te help met die ingebruikstelling van korrelbedekkings tegnologie. Zinchem en Lake International (deel van die JSE- gelyste groep, Chemserve) assisteer kunsmisvermengers om sinksulfaat sowel as ons nuwe multimikro-produkte met behulp van BioFix op korrels bedek te kry. Produsente moet aandring by hulle vermengers om dieselfde te doen, indien hulle hierdie toedieningsopsie wil benut.

Produsente sal ook bly wees om te sien dat ons nou ‘n gebruikersvriendelike webblad naamlik www.multimikro.co.za, beskikbaar gestel het. Daar sal produsente baie bruikbare inligting kan verkry oor mikro-elemente sowel as interessante boeke en hulpmiddels kan aflaai. Ons poog om die webblad konstant op te dateer met relevante inligting en sodoende dit die een-stop-webadres te maak vir inligting oor essensiële mikro-elemente. Besoek ons webblad en lewer kommentaar sodat ons jou behoeftes ten opsigte van mikro-elemente kan aanspreek.

Seker die belangrikste van alles is die ongelooflike suksesse wat produsente die afgelope jaar met Zinchem se produkte behaal het. Ons wil aan al die produsente wat vir ons proewe geplant het en getuigskrifte gegee het, weer eens opreg dankie sê en ons sien uit om deel te wees van ‘n suksesvolle span in die toekoms.

Suksesse behaal

Kortliks het produsente die volgende suksesse behaal; op sonneblomme het die Bambergers van Ottosdal met 5 kg/ha sinksulfaat wat tydens planttyd op die ry toegedien is, 133,56 kg of ‘n 7,8% verbetering in opbrengs gerealiseer en dit teen ‘n addisionele koste van slegs R80/ha.

Daar was ook by twee verskillende lokaliteite puik resultate verkry met Zinchem se mikro-elemente op droëlandmielies. Die afgelope seisoen het die Bambergers ook Zinchem se advies gevolg en 5 kg/ha sinksulfaat hepta saam met 200 liter water per hektaar 300 mm breed uitgespuit bo-oor die plantery tydens planttyd.

Die gevolg was dat hulle ‘n allemintige 7 221 kg/ha gestroop het; ‘n volle 359 kg/ha of 5,2% beter as die kontrole wat 6 862 kg/ha gerealiseer het. Dit is ‘n addisionele R579/ha meer in hul sakke nadat die koste van R80 verhaal is vir die behandeling. Wat net weer eens bevestig dat sinksulfaat ook ‘n verdere verbetering in die uitsonderlike hoë opbrengste kan teweegbring.

Mnr Buks van Wyk, ook van Ottosdal, het twee behandelings met Zinchem se mikro-elemente gedoen en kontrolestroke is gelaat waar geen mikro-element gegee is nie. Die eerste behandeling het bestaan uit 2,5 kg/ha sinksulfaat en ‘n 2,5 kg mikro-element-kombinasie wat onder andere koper en boor bevat het.

Die tweede behandeling was 5 kg/ha sinksulfaat hepta en ook 2,5 kg van die mikro-element-kombinasie. Die koste van die eerste behandeling was R120/ha en die tweede behandeling R165/ha. Die stroopresultate was soos volg: die kontrole het 4 100 kg/ha gelewer, die eerste behandeling het 500 kg/ha beter gestroop en die tweede behandeling 1 480 kg/ha. Teen R1 850/ton mieliesprys beteken dit ‘n addisionele R805/ha met behandeling een en R2 573/ha met behandeling twee ná die koste van die behandelings verhaal is.

Zinchem se grondtoediener (Foto 1) kan aangeskaf word by QFS Quantum Field Services op Kroonstad. Daar is verskillende tenkopsies, insluitende ‘n 600 liter disselboomtenk, ‘n 250 liter tenk sowel as ‘n 600 liter John Deere opsie.

Zinchem se produkte werk nie net op graangewasse nie, maar ook in die bosboubedryf. Volgens mnr Reinstorf van Piet Retief is die uitda gings wat die bosboubedryf in die gesig staar, tussen 5% en 7% saailing afsterftes en swakker boompies wat uitgeplant word. Ons het ‘n kombinasie van mikro-elemente aanbeveel om te gebruik in die kwekery sowel as in die plantasie. Reinstorf sê: “Dit is die eerste keer dat ons zero persent mortaliteit in die kwekery gekry het.”

Die saailinge is sterker en vertoon ook baie gesonder. Met die mikro-element-regstellings wat in die plantasies gedoen is, kan daar ook ‘n duidelike verbetering in die groeikragtigheid van die bome waargeneem word, by bome met heelwat dikker stamme, vergelyk met bome wat nie met Zinchem se mikro-elemente behandel is nie. Zinchem het ook ‘n proef saam met die Helpmekaar Studiegroep in die Noordwes Provinsie gedoen. Zinchem se sinksulfaat is gekombineer met ‘n mikro-elementaanvulling. Die proefresultate hiervan asook mnr Buks van Wyk se resultate verskyn in Tabel 1 en Tabel 2. Ons het geweet die sinksulfaat/mikro-element kombiniasie gaan goeie resultate lewer, maar die resultate het almal verbaas en ons verwagting oorskry. Ons nooi produsente uit om dit self te probeer.