Sade van welwillendheid en bemagtiging

Meer as een uit elke vyf Suid-Afrikaners gaan gereeld honger slaap – dit is ‘n totaal van 10 miljoen mans, vroue en kinders wat geen idee het waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie.

In ‘n poging om die siklus van armoede te breek, het Laeveld Agrochem met AgricultSURE saamgespan om ‘n volhoubare oplossing te bied in die vorm van hul Saakpakkie-projek.

Volgens Kobus Hurter, uitvoerende bestuurder van AgricultSURE, is die hoofdoelwit van die projek om groentesaadpakkies te voorsien, by uitstek aan lae-inkomste groepe in Suid-Afrika wie se enkele hoofmaaltyd gewoonlik bestaan uit mieliemeel, marog en vleis (vir dié wat dit kan bekostig), ‘n maaltyd wat nie genoegsame voedingswaarde bevat nie. Die oplossing, sê Hurter, is om mense te bemagtig en toe te rus om hul eie groente te verbou.

Die projek verskaf innoverende saadpakke teen R150 elk, wat gebruikers in staat stel om hul eie groente te plant en te oes. Dit is beskikbaar in twee variante: ‘n somerpak bestaande uit skorsie-, groenboontjie-, kool-, wortel- en spinasiesade, en ‘n winterpak bestaande uit kool-, beet-, uie-, wortel- en raapsade. Elke pak bevat ook twee tipes bemesting, ‘n volledige stel spasiëringstoue en ‘n gebruikersvriendelike geïllustreerde handleiding.

“’n Mens hoef net water by te voeg om ‘n indrukwekkende 100-120kg gesonde, voedsame groente op ‘n geskikte stuk grond van slegs 3 meter x 5 meter (15 m2) te verbou,” verduidelik Hurter.

Volgens Corné Liebenberg, Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder, is daar nog ‘n groot addisionele voordeel, afgesien van die verskaffing van vaardighede en voedselsekerheid aan miljoene mense. “Deur skole te betrek, ontwikkel ons ook Suid-Afrika se volgende geslag boere en entrepreneurs,” sê hy.