Wat presies is presisieboerdery?

Nici De Beer

Deur Attie Haasbroek
Senior Agronoom Wes- en Suid-Kaap: Kleingraan en Aartappels
Agri Technovation

agritechnovation

Presisieboerdery is ’n bestuursfilosofie, wat onder andere tegnologie gebruik om inligting te versamel.

Hierdie inligting word deur kundiges, wat GIS-spesialiste, grond- en landboukundiges, produsente en kontrakteurs insluit, geïnterpreteer en verwerk in praktiese oplossings om opbrengste te verhoog.

Ten einde die konsep beter tuis te bring, kan presisieboerderystelsels in vier kernaksies opgesom word (Figuur 1). Die eerste twee aksies het te doen met die insameling en verwerking van data, wat ook ander faktore soos bestuurspraktyke, finansies en toerusting in ag neem, om ’n geïntegreerde plan (aksie 3) saam te stel.

Die doelwit is om op die langtermyn effektiwiteit, produktiwiteit en winsgewendheid van ’n bepaalde produksie-area te verbeter, met die suksesvolle implementering (aksie 4) van die geïntegreerde plan.

Data-insameling (aksie 1)

’n Geïntegreerde geheelbeeld van ’n produksiegebied word gevorm deur inligting oor die plantgrond-atmosfeer kontinuum te versamel. Hierdie data word van verskillende platforms verkry, bv. deur middel van afstandswaarnemingsoos satellietbeelde en lugfoto’s, asook vanaf implemente (trekkers, stropers, ens.), weerstasies en van direkte produksie-area ondersoeke. Inligting wat tipies deur middel van afstandswaarneming verkry word, sluit in: gewasveranderlikes, soos verskillende chlorofil-, biomassaen blaaroppervlakarea-indekse.

Produksie-area ondersoeke behels die identifisering van verskillende grondtipes (grondklas) en hul fisiese eienskappe, chemiese gronden blaarontledings en die aktiwiteit en verskeidenheid van die grondmikrobiese lewe. Opbrengskaarte verskaf natuurlik belangrike data oor die totale en variasie in opbrengs van ’n bepaalde produksiegebied.

Inligting kan voor die seisoen, soos in die geval van grondtipe, of gedurende die seisoen, bv. vanaf satellietbeelde, verkry word. ’n Unieke kenmerk van presisieboerdery is dat hierdie inligting wat verkry word, ’n geo-spasiëringverwysing het. Elke datapunt het dus ’n unieke koördinaatverwysing wat dit moontlik maak om ’n geïntegreerde geheelbeeld van die produksiegebied te maak.

Grondklassifikasie

Grondklassifikasie is die indeling van gronde in verskillende groepe volgens hul spesifieke fisiese en chemiese eienskappe. Die eienskappe van die grond dui die potensiaal en watter bewerkingsmetodes deur die produsent gevolg moet word tydens grondvoorbereiding aan, byvoorbeeld diep bewerking.

Chemiese grondontledings

Grondmonsters word meesal op ’n geskikte ruitpatroon (bv. 1 ha blokke), waarvan die ruit verwysings bekend is, geneem deur ’n geakkrediteerde laboratorium vir die volgende ontleding: pH, fosfaat (PO4), sulfaat (SO4), kalium (K), kalsium (Ca), magnesium (Mg) en natrium (Na). Hierdie ontledings word gebruik vir die intrapolering van die data – die proses waardeur die verspreiding van voedingselemente in die grond visueel op kaarte voorgestel word. Hierdie inligting kan gebruik word om die moontlike tekorte visueel op ’n plaaskaart te identifiseer. Op grond van die kundige interpretasie van die ontledingsresultate deur ’n spesialis landboukundige of grondkundige, word chemiese regstellings aanbeveel, wat dan met behulp van presisie toedieningstoerusting toegedien word.

Blaarmonsterneming en -ontledings

’n Goeie bestuurspraktyk is om tydens die groeiseisoen blaarmonsters, op sleutel groeistadiums vir chemiese ontledings, te neem. Monsterpunte word volgens ’n spesifieke kriteria geselekteer en resultate van die ontledings gee ’n aanduiding van die sukses van die bemestingstrategie. Indien tekorte wel in die plante voorkom, kan voedingselement-regstellings, deur middel van blaarbespuitings of kantbemesting gemaak word.

Satellietbeelde en lugfoto’s

Beide satellietbeelde en lugfoto’s is waarnemings wat in die seisoen plaasvind, om variasie in gewasontwikkeling in ’n produksie-area uit te wys. Verskillende tipe van verwerkings van beelde is beskikbaar, om die chlorofilinhoud, blaaroppervlakindeks en biomassa-indeks van ’n gewas aan te dui. Die beelde kan gebruik word om gedurende die groeiseisoen regstellings te maak op grond van die chlorofilinhoud, deur die verwerkings oor die hele land te vergelyk en daarvolgens aanpassings in die bemestingsprogram te maak. Verder kan hierdie inligting ook gebruik word vir die opstel van veranderlike stikstofregstellingskaarte.

Die biomassakaarte van koring en kanola kan vergelyk word met opbrengskaarte. Hierdie vergelyking kan bevestig dat ’n hoër biomassa op spesifieke areas ook hoër opbrengste gee en dus moet voedingsbestuur daarvolgens aangepas word.

Opbrengskaarte
Opbrengskaarte gee vir die kliënt ’n samevatting van alle insette en klimaat wat gedurende die seisoen ’n invloed op die opbrengs gehad het. Deur die opbrengskaarte as verwysing te gebruik, kan ’n land in sones verdeel word. Deur ondersoek in te stel na die verskillende sones, kan die moontlike oorsaak van lae opbrengste geïdentifiseer word.

Dataverwerking en interpretering  (aksie 2)

Al hierdie inligting kan gesamentlik gebruik word om die mees beperkende faktore te identifiseer. Wanneer hierdie faktore wel geïdentifiseer is, kan verdere waarnemings gemaak word om te bepaal wat die verlaagde opbrengste veroorsaak. Inligting wat oor ’n tydperk van verskeie jare versamel is, kan vergelyk word om te bepaal of die produksiestrategie, grondvrugbaarheid en produksie verbeter het.

Die impak van verhoogde produksie op die voedingstatus van die grond kan bepaal word. Hierdie waarneming kan verhoed dat die voeding in die grond uitgeput word vanweë die bemesting van die gewasse.

In die graanproduksie-areas van die Swartland en Suid-Kaap, is baie van die geïdentifiseerde beperkende faktore fisies van aard soos byvoorbeeld vlak gronde. Hierdie beperkings veroorsaak dat koring of kanola gedurende die seisoen aan versuiptoestande blootgestel kan word wat beperkend op die opbrengs kan wees. Die omvang van die versuipkol kan bepaal word en moontlike oplossing geïmplementeer word.

Deur die gepaste regstellings te implementeer, kan kostes ook beperk word. In die geval van chemiese regstellings is dit egter van kritiese belang dat die regte produk op die regte plek en tyd toegedien word vir optimale effektiwiteit.

Of skoon kwaliteit data inherent deel is van presisieboerdery, lê die werklike waarde van presisieboerdery in die kundige interpretasie van die inligting wat versamel word. Daar is geweldig baie inligting in omloop wat bloot dit is: data.

Ten einde verhoog te word na bruikbare data vir doeleindes van presisieboerdery, moet hierdie data, tesame met ander boerdery-verwante data, geïnterpreteer word om werklik die volle waarde daarvan te ontsluit.

Om vir die produsent bruikbaar te wees, moet die data ook beskikbaargestel word op ’n platform soos MYFARMWEB™ waar die verbruiker daartoe toegang kan verkry en al die inligting op holistiese wyse met mekaar kan vergelyk. Dit gee aan die produsent en landboukundige die geleentheid om die belangrikste faktore wat produksie beperk, te identifiseer, en ’n strategie te ontwikkel wat oor tyd geïmplementeer kan word om produksie te optimaliseer.

Beplanning (aksie 3)

Hierdie inligting word dan gebruik om produksie-beplanning te doen deur te kyk na verskillende bewerkingspraktyke vir die verskillende grondtipes. Die grondchemie, tesame met die opbrengs en satellietbeelde, kan gebruik word om veranderlike bemestings-kaarte op te stel. Kultivar-keuse kan aangepas word op grond van die opbrengste van verskillende kultivar op spesifieke gronde of hellings op ’n plaas. Deur hierdie inligting deel van ’n produsent se jaarlikse beplanning te maak, kan besluite geneem word op grond van verwerkte data wat versamel is. Deur die inligting vir die produsent te orden en te verwerk in visuele kaarte, maak dit die besluitneming en beplanning makliker.

Implementering (aksie 4)

Die inligting wat verkry is, word verwerk en geïntegreer in ’n ruimtelike oriëntasie, sodat verskillende kaarte saamgestel kan word om probleem- en optimale areas te identifiseer. Optimale produksie-areas dien gewoonlik as ’n goeie verwysing van die produksiepotensiaal van ’n spesifieke land of gebied. In produksieareas wat nie optimaal presteer nie, kan sinvolle veranderings, wat dan dien as regstellings, voor of tydens die seisoen gemaak word. Hierdie aanbevelings word deel van die produsent se praktyke en kan die effektiwiteit van sy of haar boerdery verbeter.

Elke seisoen is ’n siklus in die kringloop van produksie. Daar word data versamel wat verwerk word. Hierdie inligting word in die beplanning van die volgende seisoen gebruik om aanpassings te maak in praktyke waar nodig, wat dan geïmplementeer word. Hierdie proses word jaarliks herhaal.

Slotsom

Presisieboerdery is in baie gevalle ’n hoendereier situasie. Ten einde ’n produksiestrategie te ontwikkel, is daar baie data nodig wat oor tyd ingesamel word. Tydens die verwerking van die data kan beperkings geïdentifiseer word wat weer aanleiding gee tot regstellings in die produksiepraktyke. Deur die hele proses
is insette van die produsent, landboukundige en GIS-kundiges nodig om te verseker dat die regte beperkende faktore geïdentifiseer is om die nodige regstellings te kan doen.