Weerstand teen swamdoder

Nici De Beer

Deur Dirk Uys
Bemarkingsbestuurder vir hortologie, Afrika
Bayer CropScience

“Dit is nie die sterkste van die spesies wat oorleef nie, ook nie net die intelligentste nie dit is die een wat met die grootste sukses aanpas by verandering.” Charles Darwin

Die gebruik van swamdoders is ’n belangrike agronomiese praktyk van kritieke belang om gesonde gewasse te verseker, opbrengste te beskerm en die gehalte daarvan te verbeter.

Soos die bekende aanhaling uit Charles Darwin se boek, The Origin of Species, lui: “Die sterkste organismes wat die doeltreffendste aangepas is by hul omgewing, is die suksesvolste om te oorleef en reproduseer…” of soos hy in kort verduidelik: “Survival of the fittest”.

Soos die meeste lewende organismes, moet patogene aanpas om te oorleef. Hulle oorleef swamdoders deur ’n proses van mutasie wat weerstand teen daardie swamdoders tot gevolg het. Om die weerstand teen swamdoders te mitigeer en die risiko van weerstand te bestuur, is die Swamdoderweerstandsaksiekomitee, oftewel Fungicide Resistance Action Committee (FRAC), gestig. FRAC is ’n organisasie binne CropLife Internasionaal, wat gestig is om swamdoderweerstand se voorkomingsmaatreëls te definieer (FRAC, 2007).

Dit behels gereelde hersiening van die weerstandstatus asook die definisie van toetsprosedures. In Suid-Afrika bestaan daar ook ’n werkgroep onder die vaandel van CropLife South Africa.

Weerstand teen ’n bepaalde werking van ’n swamdoder kan ontwikkel (Brent, Hollomon, 2007) en word toegeskryf aan die volgende scenario’s:

  • Herhaalde toedienings van ’n spesifieke swamdodende werking.
  • Hoe meer eksklusief die behandeling met dieselfde hoë-risiko swamdoder is, hoe hoër is die seleksiedruk.
  • Die koers waarteen die swamdoder gebruik word, kan die risiko beïnvloed. Bv. ’n subdodelike dosiskoers kan die risiko vererger.
  • Die populasie van patogene wat aan die swamdoder blootgestel is; as die siekte voorkoms relatief laag is, word die voorkoms en seleksie van moontlike weerstandbiedende mutasies verminder.
  • Wanneer ’n groot oppervlakte eenvormig en aanhoudend met ’n spesifieke swamdoder behandel word, sal dit ’n groter weerstandsrisiko inhou.
  • Die gebruik van geïntegreerde siektebeheer, insluitend die gebruik van agronomiese metodes soos siektebestande variëteite, wisselbou en higiëne praktyke, sal die siektedruk en swamdoderseleksiedruk verlaag.
  • Die isolasie van patogeenpopulasies (bv. in kweekhuise of tonnels, geïsoleerde agronomiese streke) wat die hertoelating van sensitiewe vorms kan voorkom, kan in die guns van die ontwikkeling van weerstandbiedende populasies tel.

Risiko geassosieer met swamdoder

Volgens Hollomon ontwikkel weerstand deur ’n mutasie in die patogeen weens gereelde blootstelling aan ’n swamdoder. Enkelteikenweerstand vind plaas deur een mutasie wat ’n enkele DNS-basis in die teikengeen verander en gevolglik net een aminosuur in die teikenproteïen. Multi-kompleks-weerstand kan ook gelyktydig op verskeie teikenareas voorkom, wat dit baie meer ingewikkeld maak. Die risiko van weerstand by een teikenarea is baie hoër teenoor multi-kompleks weerstand wat op verskeie teinkenareas voorkom. Oor die algemeen is sistemiese swamdoders meer geneig tot weerstandsprobleme as kontak (“beskermende”) swamdoders.

Risiko geassosieer met patogeen

Daar is ook verskille tussen die patogene en hulle neiging om weerstand op te bou wanneer swamdoder toegedien word. Dit kan die “inherente patogeen-verwante risiko” genoem word. Om dit te mitigeer, is monitering van kardinale belang om te bepaal of weerstand die oorsaak was in gevalle van swak siektebeheer.

Dit kan met laboratoriumtoetse bevestig word, maar resultate moet noukeurig geïnterpreteer word om misleidende gevolgtrekkings te voorkom. Dit is van kritieke belang om dit met ’n vatbare en verdraagsame stam te vergelyk om ’n maatstaf sowel as ’n responskoers vas te stel (Brent, Hollomon, 2007).

Die belangrikste faktore wat patogeenrisiko bepaal, is (Brent, Hollomon, 2007):

  • Die lewensiklus van die patogeen: Hoe korter die lewensiklus, hoe meer gereeld moet swamdoder toegedien word en hoe vinniger kan weerstand opbou.
  • Hoë spoorproduksie: Hoe meer spore vrygestel word, hoe groter is die beskikbaarheid van individuele genome vir mutasie en seleksie, en hoe vinniger versprei weerstandbiedende mutasies.
  • Spore se vermoë om tussen verskillende gasheerplante en streke te versprei.
  • Die vermoë om tydens alle gewasstadia te besmet, wat herhaalde behandeling met swamdoders benodig.
  • Teenwoordigheid van ’n geslagtelike voortplantingstadium in die lewensiklus kan weerstandsontwikkeling bevoordeel of belemmer.
  • Vermoë om te muteer of gemuteerde gene uit te druk: Sekere patogene produseer makliker geskikte mutasies.

Strategieë om weerstand te vermy

  • Vermy die gebruik van ’n enkele metode van werking.
  • Wissel verskillende swamdodende werkings af.
  • Hou by die goedgekeurde dosis, want subdodelike dosisse sal weerstand vererger.
  • Stel gewasverbouingsmetodes in om die voorkoms van siektes te verminder, insluitend:
    • Siekteverdraagsame variëteite/basters.
    • Manipulering van die groeitoestande (deur snoei en verbeterde lugvloei).
    • Optimalisering van die gewasgesondheid.

Risikofaktore

Die risiko van weerstand is gekoppel aan verskillende faktore, insluitend die werking van die swamdoder.

Kontakprodukte, insluitend koper (bv. koperoksichloried); ftalimiede (bv. folpet); en ditiokarbamate (bv. mancozeb en probineb), is baie selde of ooit daarvoor bekend dat hulle aansienlike weerstand teëkom (Brent, Hollomon, 2007)

Na wat berig word, bestaan die moontlikheid wel dat tekens van weerstand by kopergebaseerde swamdoders kan voorkom in ’n verskeidenheid gewasse, insluitend tamaties, sitrus en verskillende groentesoorte (Horvath et al. 2012). Om produsente te help om ’n ingeligte besluit te neem, het FRAC swamdoders geklassifiseer op grond van hulle risiko om weerstand by patogene te ontwikkel. Dit word ook jaarliks opgedateer op die FRAC webtuiste by www.frac.info

Die risiko vir patogeenweerstand moet ook gekorreleer word met die intensiteit van siekte-ontwikkeling geassosieer met:

  • weerstoestande,
  • bemesting en besproeiing,
  • kulturele praktyke,
  • mate van weerstand van kultivars.

Hierdie risiko’s kan in Tabel 2 opgesom word, gebaseer op interaksies tussen swamdoder en patogeenrisiko’s. Die risikokategorisering is nagenoeg beraam en die tellings is arbitrêr. Nietemin is dit waarskynlik die beste ramings wat gemaak kan word in die lig van huidige kennis. Dit hou risiko’s in onder toestande van onbeperkte swamdoder-gebruik en ernstige, volgehoue siektedruk. (Brent, Hollomon, 2007).

* ’n Lae telling weerspieël ’n lae risiko vir weerstand.
** Phytophthora kan beskou word as ’n hoër risiko patogeen as gevolg van die weerstandsrisiko
vir die fenyamiede.