Hoe om Activate N® te gebruik (Andermatt)

Nici De Beer

Deur Sias Leipoldt
Andermatt Madumbi

Activate N®, jou biologiese vennoot vir die bestuur en optimale aanwending van sintetiese stikstof.

Die uitloog van sintetiese kunsmis en veral stikstof wat uiteindelik in waterbronne beland, is ʼn wesentlike probleem en ʼn onderwerp wat gereeld onder bespreking kom. Die verhoogde stikstofvlakke in waterbronne veroorsaak opbloei van alge wat baie nadelig vir enige waterlewe kan wees. Sintetiese kunsmis veroorsaak die meeste stikstofbesoedeling, maar dit is ook omdat kunsmis die meeste toegedien word in voedselproduksie wêreldwyd. Om stikstofbesoedeling te verminder, beteken nie dat produsente moet oorskakel van sintetiese na organiese kunsmis nie (per eenheid kan sekere organiese kunsmisstowwe net soveel tot stikstofbesoedeling bydra) – die antwoord lê eerder in ʼn holistiese benadering en die kombinasie van sintetiese en organiese kunsmis sowel as die insluiting van stikstofbindende organismes byvoorbeeld Andermatt Madumbi se Activate N®.

Wat is Activate N®?

Activate N® is ʼn kombinasie van voordelige bakterieë (Bacillus subtilis en Herbaspirillum seropedicae) met die vermoë om N2 gas uit die atmosfeer te bind in ʼn plantbeskikbare formaat (Ammonium). Die beginsel is dieselfde as Rhizobium entstowwe op peulplante, met die groot voordeel dat hierdie bakterieë in Activate N® op alle gewasse aktief is. Die formulasie bevat nie net vrylewende bakterieë nie, maar ook ʼn endofitiese isolaat. Die vrylewende bakterieë leef in die risosfeer (die area rondom die wortels) en fillosfeer (mikro-omgewing op die bogrondse plantoppervlaktes), en benut plantafskeidings as voedselbron en in ruil verskaf dit stikstof aan die plant.

Die endofitiese bakterieë dring die plantweefsel binne (deur die huidmondjies of krake op die blare of wortels) en dit kan die totale plant koloniseer, vanwaar dit dan atmosferiese stikstof bind en aan die plant verskaf.

Opsies met Activate N®

Bykomend tot die standaard kunsmisprogram:
Stikstof word nie verminder nie maar die byvoeging van Activate N® verseker dat die gewas nie in ʼn stikstoftekort situasie beland nie. Met sintetiese stikstof is die beskikbaarheid hoog direk na toediening, maar verminder stelselmatig daarna wat dikwels lei tot ʼn stikstoftekort. Activate N® verhoed hierdie situasie en die gevolg is verhoogde en beter kwaliteit oeste. Hierdie is ʼn gewilde strategie by hoë waarde gewasse waar die optimum en ʼn hoë kwaliteit oes die doel is, eerder as die sny van insetkostes.

Vermindering van sintetiese stikstof:
Opsie om sintetiese stikstof met ʼn maksimum van 30% of 30 kg/ha te verminder. Verkieslik moet die stikstoftoediening tydens plant nie gesny word nie, maar eerder die opvolg toedienings.

Activate N® moet toegedien word op aktiefgroeiende plante wat voldoende suikers produseer om die bakterieë te voed. Hierdie produk kan nie toegedien word om reeds bestaande stikstoftekorte reg te stel nie. Indien die stikstofbron wat verminder word ʼn verbinding soos kalsiumnitraat is, sal die produsent ʼn ander vorm van kalsium moet toedien om vir die kalsium komponent te kompenseer.

Redes waarom Activate N® in ʼn kunsmisprogram ingesluit moet word:

  • Effektief op alle gewasse, nie spesiespesifiek soos Rhizobium entstowwe nie.
  • Dit is baie effektief en die stikstof wat verskaf word, kan nie uitloog nie.
  • Stikstof word verskaf reg deur die seisoen wanneer die plant ʼn stikstofbehoefte het.
  • Dit is voordelig vir grond, en wortelgesondheid en geen versuring vind plaas nie.
  • Activate N® se koste word nie deur wisselende oliepryse beïnvloed nie.

’n Kombinasie van natuurlike plantgroeibevorde rende bakterieë wat geformuleer is om voedingstof benutting, veral stikstof, te verbeter.

Activate N® koloniseer plantoppervlaktes.
Foto’s hieronder is besigtig en geneem deur fluoressensiemikroskopie..

Activate N® inokulasie op die blaaroppervlak, met die huidmondjie sigbaar.

Activate N® inokulasie in wortelweefsel.