Invloed van blaarvoeding op blominduksie en differensiasie van pekanneute
(Agri Technovation)

Nici De Beer

Deur Deon Claassen
Hortoloog
Agri Technovation

Opbrengs bepaal deur die graad van alternerende drag asook blom- en neutafspening:

Een van die grootste uitdagings wat pekanneut- produsente in die gesig staar, is die gewas se geneigdheid tot alternerende drag. Alterne-
rende drag by pekanneute word gewoonlik gekenmerk deur een seisoen met baie swaar drag (’n sogenaamde aanjaar), gevolg deur een of meer seisoene met ligte of geen drag (afjaar). Ander variasies van hierdie siklus kan ook voorkom. Die grootste oorsaak tot alternerende drag is swak blomterugkeer eerder as blom- en neutafspening. Albei veroorsaak steeds ’n afname in die aantal neute geproduseer op die boom, dus moet beide scenario’s so vêr moontlik probeer verminder word.

Die grootste faktor wat ’n invloed het op alternerende drag, is genetika, maar die graad daarvan word beïnvloed deur verskeie faktore soos klimaat, water, snoei en voeding. Die graad van afspening van blomme en neute word meer bepaal deur klimaat (veral sonlig), water, insekte, siektes, koolhidraatvlakke en voeding. In die gedeelte word daar dus gefokus op die invloed van die op die beskikbaarheid van energie se invloed op twee kritiese fases voor blom naamlik blom-induksie en blomdifferensiasie.

1. Blominduksie

Vroulike blominduksie vind plaas deur ’n stimulus wat ’n knop (bud) verander van vegetatief na reproduktief. Hierdie verandering begin gewoonlik tydens die waterblasiestadium (Figuur 1) van die huidige seisoen en bepaal die hoeveelheid blomknoppe wat gaan differensieer na bot die volgende seisoen. Dit vind dus plaas saam met ’n ander groeiaktiwiteit (die ontwikkeling van die neut) wat baie energie vereis hoofsaaklik wanneer die neut van waterblasie na sagtedeeg (Figuur 2) ontwikkel.

Die kwaliteit van blominduksie word bepaal en beïnvloed deur die interaksie tussen verskeie faktore, insluitende die algehele gesondheid van die boom, die balans tussen verskeie planthormone en die beskikbaarheid van koolhidrate (energie) in die boom. Hierdie faktore word weer beïnvloed deur die beskikbaarheid van essensiële voedingselemente of voedingstowwe in die boom gedurende die stadium, asook die boom se vermoë om die voedingstowwe effektief op te neem en aan te wend. Die status van een van hierdie faktore sal noodwendig die ander beïnvloed.

Om optimale blominduksie en -ontwikkeling te behaal, is dit belangrik dat die interaksie tussen die genoemde faktore optimaal funksioneer. Dit is ’n baie groot uitdaging om twee hoof- redes, eerstens vereis die boom baie energie om die neut volwasse te kry (veral op ’n swaar drag) en tweedens, is die tyd tussen die einde van die neut se ontwikkeling en dormansie aan die einde van die seisoen te min om energie- reserwes terug in die boom te stoor vir die opeenvolgende seisoen.

Hoë energieverbruik tydens neutvul:

Een van die hoofredes hoekom pekanneute so hoë energieverbruik het tydens neutvul, is omdat die neut self ’n baie hoë lipied inhoud bevat. Hoe swaarder die drag op die boom, hoe meer energie gaan benodig word om ’n goeie kern te ontwikkel. Voedingstofbehoefte is dus ook tydens die fase baie hoog.

Hoë voedingsbehoefte tydens neutvul:

Neutvul word gekenmerk deur die groot hoeveelheid voedingstowwe (fosfate (P) en kalium (K)) wat daartydens verbruik (en derhalwe benodig) word. Die rede hiervoor is dat kalium ’n pertinente rol speel by die vervoer van koolhidrate van die blare na die neute. Hierdie hoë verbruik kan een van die faktore wees wat bydra tot alternerende drag. Dit is bewys dat net na bot hoër vlakke van K en P in blaarontledings op ’n aanjaar kry, en andersom (Krezdorn, 1955).

Tendense rakende kalium en fosfate is waargeneem tydens ontledings gedoen by ’n produsent in die Noord-Kaap. Twee Wichita bome is aan die einde van die seisoen apart geskud ten einde hul onderskeie neutgewigte en graderings (Tabel 1) met die ITEST™LEAF vlakke van elke boom tydens twee groeifases naamlik neutset en daarna sagte deeg te vergelyk.

Blaarmonsters is van dieselfde bome tydens neutset geneem en weer op die sagtedeeg- stadium. Die resultate van die blaarontledings (Fig 3 – 6) is daarna vergelyk met die uitslae soos per Tabel 1. Dis duidelik dat die verbruik van veral fosfate en kalium hoër is by die boom wat swaarder drag getoon het. Dit kan gesien word dat die val van getoetste fosfaat- en kaliumvlakke van boom 1 vanaf die neutset stadium (Fig 3) na sagtedeegstadium (Fig 4) meer is as die val van beide vlakke van boom 2 vanaf sy neutsetstadium (Fig 5) tot sy sagtedeegstadium (Fig 6).

Opbou van energie vir volgende seisoen:

Die kort tydperk tussen neutvolwassenheid en dormansie stel ’n uitdaging daar omdat dit baie min tyd laat vir die opbou van hierdie energiereserwes.

Die tydperk tussen die fases verskil van kultivar. Navorsing toon dat die hoeveelheid dae vanaf neutvolwassenheid tot en met blaarval wél impakteer op die hoeveelheid blomme wat die volgende seisoen ontwikkel. (Wood, 1995).

Die opbou en stoor van genoegsame koolhidraatreserwes voor die boom dormant raak, behoort dus ’n primêre fokuspunt vir produsente te wees aangesien dit direk impakteer op die kwaliteit van blominduksie en ontwikkeling van die volgende seisoen.

Dit vereis dus die effektiewe bestuur van verkeie faktore soos voeding, sonlig, water, insekte en siektes. (Onthou dat ander impakterende faktore soos water en sonlig dalk die produksie van koolhidrate mag belemmer en/of die gehalte van blominduksie kan beïnvloed.

Dus, alhoewel die toediening van genoegsame voedingstowwe soos genoem wel tot blominduksie sal bydra, kan dit nie aanvaar word dat sodanige toediening ’n uitstekende blominduksie sal waarborg nie, vanweë die ander faktore wat ’n invloed mag hê).

2. Blomdifferensiasie

Vroulike blomdifferensiasie vind plaas net na dormansie wanneer die botsels begin swel (bud swell) en word mikroskopies gekenmerk deur die ontwikkeling van reproduktiewe weefsel. Tydens hierdie stadium is die beskikbaarheid van genoegsame energie in die boom uiters belangrik om te verseker dat die blom behoorlik set en in ’n neut ontwikkel en nie afspeen na bestuiwing plaasgevind het nie. Die eerste afspeningsfase (daar is vier in totaal) vind plaas vanweë onderontwikkelde blomme (Sparks and Heath, 1972) en, alhoewel dit moeilik visueel identifiseerbaar is, sal dit wel ’n afname in opbrengs veroorsaak.

Verhoogde vlakke van koolhidrate (energie) in die boom sal die afspeen van blomme en neute in hulle beginfase beperk (mits ander toestande soos klimaat, insekte en siektes nie beperkend is nie). Die hoeveelheid energie beskikbaar om optimum blomset en neutontwikkeling suksesvol te laat plaasvind, kan bevoordeel word deur optimale bestuur van voeding aan die einde van die vorige seisoen en net na bot van die huidige seisoen.

Bestuur van optimale voeding kan uitdagend wees:

Tydens beide vroulike blominduksie en -differensiasie is die beskikbaarheid van voldoende en korrekte voedingstowwe een van die faktore wat optimaal bestuur moet word om die effek van alternerende drag, blom- en neutafspening so ver moontlik te verminder. Die proses om voedingstofvlakke soos genoem te lig en optimaal te hou, is uitdagend.

Die opname van voedingstowwe tydens neutvul, na neutvolwassenheid en net na blom kan baie keer nie vinnig genoeg vanuit die grond plaasvind om aan die behoeftes van die boom te voorsien nie. Die faktore is meestal a.g.v. beperkende toestande in die grond. Party van die toestande is maklik om te beheer en ander baie moeilik. Enige tekorte aan voeding tydens die kritiese fases voor blom sal stres veroorsaak. Blaarvoedings bied wel ’n oplossing om hierdie uitdagings effektief aan te spreek.

Blaarvoedings as effektiewe bestuurspraktyk:

Die gebruik van blaarvoedings gedurende die stadiums wanneer daar ’n baie hoë aanvraag na energie is, kan die volgende voordele vir die bereik van optimale blominduksie en -set bied:

  • Dit verskaf ’n vinnige (onmiddellike) respons op voedingstekorte in die boom waar daar ’n groot behoefte aan voedingselemente is as wat deur die wortels verskaf kan word.
  • Dit verminder die stres in die boom wat veroorsaak word deur ’n gebrek aan voedingselemente.
  • Dit veroorsaak ’n vinnige opbou van energie in die boom nadat die neut volwassenheid bereik, wat spesifiek by pekanneute nodig is.

Hierdie voordele op blominduksie behoort dan ook ’n positiewe impak op die alternerende dragpatroon te bewerkstellig. Die toediening van blaarvoedings (in dié geval ’n energiespuit) is getoets op ’n boord in die Noord-Kaap.

Die energiespuitmengsel, wat bestaan uit:
TRY METM, K PHLOEMTM, en NUTS-TO-GROWTM, ’n kombinasie van makro- en mikro-elemente, sekere aminosure en stimulante. Die bome in die boord was 14 jaar oud en al die bestuurspraktyke soos bemesting, besproeiing en snoei was op dieselfde manier op al die bome toegepas gedurende die 2-jaar-periode voor die toets plaasgevind het. Die spuit is een keer gedoen op sagtedeeg. Die kultivar op beide die onbehandelde en behandelde rye, was Ukulinga.

Van belang is dat koolhidraatmonsters geneem is gedurende waterblasiestadium en shuck split-stadium (net na sagtedeegstadium) en die resultate van hierdie 2 ontledings met mekaar vergelyk is.

Die resultate het die volgende getoon:

  • Dit was redelik duidelik dat die onbehandelde rye hoër koolhidraatvlakke gedurende waterblasiestadium getoon het as die behandelde rye. Dit was voor toediening van die blaarvoeding.
  • Suikervlakke het egter baie gesak vanaf waterblasie- tot sagtedeegstadium op die onbehandelde gedeelte, maar gestyg vanaf waterblasie tot sagtedeegstadium ná die behandeling.

Uit die voormelde resultate, kan verskeie waarnemings gemaak word rakende die effek van energiespuite wat op die korrekte stadium(s) by pekanneute toegedien word. Dit is duidelik dat daar ’n positiewe tendens rakende die impak van die energiespuit te wees.

Agri Technovation het die eerste laboratorium ter wêreld wat koolhidraatvlakke toets.
Daar is reeds ’n algemene pekanneutnorm en Agri Technovation is tans besig om dit verder per kultivar te ontwikkel.

Blaartoedienings kan aan die einde van die seisoen (wanneer die vraag na sekere voedingstowwe groter is as wat deur die wortels voorsien kan word) as ’n hulpmiddel gebruik word, aangesien dit ’n vinnige reaksie op die boom se behoefte bied.

Die belangrikste doel waarvoor die koolhidraat- reserwes wat aan die einde van die seisoen opgegaar word aangewend word, is om bestuiwing te bevorder – die blom gebruik energiereserwes om lank genoeg aan die boom te bly vir bestuiwing om effektief plaas te vind (Reid, 2016).

Indien die boom die vorige seisoen ’n swaar drag gehad het en daar nie genoeg tyd was voor dormansie om weer genoegsame koolhidrate in die boom op te bou nie, sal die spuit van blaarvoedings (energiespuite) net na neutvolwassenheid baie effektief wees om veral suikervlakke weer dadelik in die boom op te bou, wat vir die volgende seisoen voordelig kan wees.

Gevolgtrekking

Een van die faktore wat dus optimum bestuur moet word, is die voorsiening van energie in alle fases van die pekanneut se groeiseisoen. Die voorsiening van energie kan egter beperk word, onder meer deur voedingstekorte in die boom waar die behoefte groter is as wat die wortels kan verskaf. In hierdie geval kan blaarvoeding een van die grootste voordele bied vir enige pekanneutprodusent om sodoende onmiddellik aan die behoeftes van die boom op voedingsvlak te voorsien.

Bronne:

Anderson, P.C. 2019. The pecan tree. In Horticultural Sciences Department, UF/IFAS Extension; Guide-HS982; University of Florida: Gainesville, FL, USA, pp. 1–16. Available online: www.edis.ifas.ufl.edu/hs229 (accessed on 26 Oct 2020).

Barison, F.R. 1986. Pecan culture; The Texas Pecan Growers Association: College Station, TX, USA, 19 Chap 2, p. 27.

Carroll, B., Smith, M.W. 2017. Pecan varieties for Oklahoma. Division of Agricultural Sciences and Natural Resources, Oklahoma State University, HLA6201. Available online: https://extension.okstate.edu/factsheets/pecan-varieties-for-oklahoma.html (accessed on 25 September 2020).

Graham, C. 2020. What the recent freeze means for pecan growers. Noble Research Institute-Noble Farm Damage Report. Available online: ttps://www.noble.org/blog/what-the-recent-freeze-means-forpecan-growers/ (accessed on 25 Sept 2020).

Han, M., Peng, F., Marshall, P. 2018. Pecan phenology in Southeastern China. Annals of Applied Biology. 172:160–169.

Herrera, E. 1999. Flowering habits of pecan trees; Guide H-622; Cooperative extension services, New Mexico State University: Las Cruces, NM, USA, pp. 1–4.

Kuden, A. B., Tuzcu, O., Bayazit, S., Yildirim, B., Imrak, B. 2013. Studies on the chilling requirements of pecan nut (Carya illionensis Koch) cultivars. African Journal of Agricultural Research. 8:3159–3165.

Sparks, D. 1993. Chilling and heating model for pecan budbreak. Journal of the American Society for Horticultural Science. 118:29–35.

Sparks, D. 2005. Adaptability of pecan as a species. Journal of the American Society for Horticultural Science. 40:1175–1189.

Wood, B.W. 2011. Influence of plant bioregulators on pecan flowering and implications for regulation of pistillate flower initiation. Journal of the American Society for Horticultural Science. 46: 870–877.