Monitering vir plantpatogene

Chantal Forssman

Deur Riaan Maartens
Besigheidsbestuurder
Laeveld Agrochem

 Sitrus-swartvlek is ’n siekte wat die vrugte, blare en takke van alle sitruskultivars kan aantas. Dit word deur ’n swam, Phyllosticta citricarpa, veroorsaak. Die letsels wat dit veroorsaak maak nie die vrug onbruikbaar nie, maar hierdie vrugte kan egter weens streng fitosanitêre uitvoerregulasies, veral vanaf die Europese Unie (EU), nie uitgevoer word nie.

Die sitrus-swartvlek siekte kan dus groot ekonomiese verliese vir die sitrusprodusent tot gevolg hê. Om hierdie rede het Laeveld Agrochem ’n paar jaar gelede met ’n sitrus-swartvlek moniteringsprogram begin om presies te kan bepaal wanneer infeksieperiodes plaasvind.

Die program het die afgelope tyd geweldig uitgebrei. Vandag beskik Laeveld Agrochem oor ’n netwerk van meer as 40 volumetriese spoorvangers, wat strategies uitgeplaas is in talle van die belangrike sitrus-, makadamia-, avokado-, druiwe, pekanneut- en kernvrugproduserende gebiede in Suid-Afrika.

Swartvlek op suurlemoen. *Photo credit Ernst de Beer, Laeveld Agrochem

Watter gebiede word gemonitor?

Die gebiede wat gemonitor word, sluit in Tshipise, Levubu, Letsitele, Hoedspruit, Marble Hall en Groblersdal in die Limpopo-provinsie, terwyl Nelspruit, Barberton, Witrivier, Schoemanskloof, Burgersfort en Ohrigstad die Mpumalanga-provinsie verteenwoordig. In die Oos-Kaap word monitering ge-doen by Addo, Patensie, Kirkwood, Hankey en Fort Beaufort, asook Montagu in die Wes-Kaap.

 

Waarvoor word gemonitor en hoekom?

Siektemonitering fokus hoofsaaklik op permanente gewasse, met die doel om vir meer as 20 verskillende patogene te monitor.

Van die belangrikstes sluit in Phyllosticta-swartvlek en Diaporthe-melanose in sitrus, Pseudoscercospora-swartvlek en verskeie stam- en wortelpatogene in avokado’s, verskeie blom- en neutsiektes soos Cladosporium-rotstert, Fusicladium-skurfsiekte in pekanneute en Colletotrichum-antraknose in makadamias, Venturia-skurfsiekte en Podosphaera-witroes in kernvrugte, en Plasmopara-donsskimmel en Uncinula-witroes in druiwe. Ander siektes wat verskeie gewasse beïnvloed en waarvoor gemonitor word, sluit in Botrytis-grysskimmel, Alternaria en Fusarium.

Hierdie inligting dien as ’n vroeë waarskuwing van die teenwoordigheid van spore en moontlike infeksies nog voordat siektesimptome opgemerk word. Dit is dus van groot waarde as dit kom by die vroegtydige beheer van
sekere plantsiektes.

Daar is min swamdoders wat oor ’n kuratiewe aksie beskik en voorkomende optrede is dus baie belangrik.

Historiese rekords van infeksieperiodes is van groot waarde om te verstaan hoekom beheermaatreëls nie gewerk het nie. Daar is dikwels ’n korrelasie tussen die infeksie-periodes en gapings in die beskerming wat ’n spesifieke beheerprogram bied.

*Photo credit Ernst de Beer, Laeveld Agrochem

Swartvlek op sitrus. Foto: Ernst de Beer

Rol van die klimaat in infeksieperiodes

Spoorvrystelling vind gewoonlik net plaas onder sekere klimaatstoestande. Daarom is elke moniteringspunt toegerus met een of meer gevorderde weerstasie(s).

Behalwe vir die versameling van weerdata, is baie van hierdie stasies ook in staat om vooruit voorspellings te maak.

Hierdie voorspellings maak dit moontlik om beheermaatreëls vroegtydig in plek te kry vir moontlike infeksieperiodes, selfs voor dit plaasvind. Tesame met hierdie vroeë waarskuwings van moontlike spoorvrystelling, kan daar ook vir produsente ’n voorspelling gegee word van spuitkondisies, wat hulle beplanning natuurlik baie vergemaklik.

Die waarde van inligting

As dit kom by plantsiektes, is dit soos om teen ’n onsigbare vyand te baklei. Teen die tyd wat die skade sigbaar raak, is dit dikwels te laat en skade aan gewasse is iets wat produsente net nie meer kan bekostig nie.

Die inligting wat Laeveld Agrochem deur hierdie moniteringsprogram gratis aan hulle kliënte beskikbaar stel, is van onskatbare waarde en dra baie by om oesbeskerming in ’n alreeds moeilike landbou-omgewing te bied.