Pasmaak bemesting vir ʼn pasmaak aartappel
(Agri Technovation)

Nici De Beer

Deur Carl van Heerden
Senior Agronoom
Agri Technovation

agritechnovation-small

Soos ʼn pasgemaak geweer gebou word om ʼn sekere funksie te verrig, so behoort daar by aartappels ook verskillende bemestingsprogramme gevolg te word vir verskillende kultivars. Dit is duidelik dat daar verskillende faktore is wat ʼn invloed het op die suksesvolle verbouing van aartappels om top opbrengste te behaal.

Faktore soos genetika, klimaat, waterbestuur, grondvoorbereiding, onkruidbeheer, swam en pesbeheer, bemesting en algemene bestuur speel hier ʼn rol. Bemesting is een van die bogenoemde faktore wat nou, met behulp van data, direk beïnvloed kan word deur kultivargenetika.

Volgens ʼn artikel gepubliseer deur Colorado State University in Junie 20191, moet kultivar- spesifieke bestuurspraktyke toegepas word wanneer verskillende kultivars geplant word omdat die stikstofbehoeftes van kultivars kan verskil. In Mei 2015 was daar ʼn MSc studie2 gedoen waar die nutriënt waarde van 11 verskillende aartappelkultivars bepaal is.

Daar is gevind dat die Dariuskultivar die hoogste energie- (380kJ/100g) en koolhidratevlakke (18.6g/100g) bevat en Fianna die laagste koolhidraatvlakke bevat. Die bevindinge het ook gewys dat Avalanche die hoogste sinkinhoud (Zn) het en Sifra die laagste sinkinhoud. Darius en Fianna het die hoogste kaliuminhoud (K) getoon. Dit word duidelik deur die navorsing gestaaf dat verskillende aartappel- kultivars verskillend bemes en bestuur moet word. Die afgelope 6 jaar het Agri Technovation deur fyn navorsing en die verwerking van hulle eie data, hierdie bevindings begin toepas in die veld, deur die verskillende bemestingsbehoeftes van die verskillende aartappelkultivars vas te stel. Mondial, Sifra en Valor is die drie hoofkultivars wat geplant word vir die vars- produktemark. Markies, Fianna, Innovator en FL2108 is die kultivars wat die meeste geplant word vir die verwerkingsindustrie. Al 7 hierdie bogenoemde kultivars se spesifieke behoeftes in terme van makro- en mikro-elemente, en ook die bepaalde toedieningstydstip in ʼn bemestingsprogram, verskil en moet uniek wees vir daardie spesifieke kultivar.

Met behulp van data mining kan daar bepaal word dat ʼn Markies byvoorbeeld tot en met 8 weke na opkoms laer konsentrasie van ʼn sekere element in die blaarontledings toon as die ander verwerkingskultivars. Sifra en Mondial blaarontledings toon laer konsentrasies as die gemiddelde vir ʼn ander element, veral 4 weke na opkoms. Dit is ook bepaal dat Markies se een makro-element-konsentrasies heelwat laer toon as die gemiddelde ontledings vir ʼn aartappel tot en met 9 weke na opkoms.

Met gepubliseerde navorsing en met data in die hand, bied dit aartappelboere die geleentheid om saam met Agri Technovation en Laeveld Agrochem vir elke aartappelkultivar ʼn pasmaakbemestingsprogram saam te stel. Om so uiteindelik die volgende stap te neem in aartappelverbouing om opbrengste te verhoog en biofortifikasie-aartappels aan verbruikers te bied. (Biofortifikasie verskil van gewone vesting, dit fokus om plantvoedsel voedsamer te maak namate die plante groei, eerder as om voedingstowwe by die voedsel te voeg wanneer dit verwerk word.)

  

Verwysings:

  1. Davis , S.Y.C., and J.G. Essah. 2019. “Fertilizing Potatoes in Colorado.” Colorado State University Extension.
    Accessed June 18, 2021. https://extension.colostate.edu/topic-areas/agriculture/fertilizing-potatoes-0-541/.
  2. Niekerk, Carmen van. 2015. “Biodiversity of potatoes as related to nutrient content and quality (MSc Nutrition).”
    University of Pretoria.