Strategiese plaagbestuur vir sitrus en die bedryf se uitdagings

Chantal Forssman

Deur Pieter Dreyer
Landboukundige Marble Hall
Laeveld Agrochem

Is sitrusplaagbeheer of dalk eerder plaagbestuur ’n dissipline waar ons met korttermynbesluite of -keuses probeer om ’n relatiewe skoon en bemarkbare eindproduk op die winkelrakke te kry? Of is dit ’n delikate proses van besluitneming waar elke aksie ’n positiewe of negatiewe reaksie kan hê, en waar ondeurdagte korttermynbesluite die langtermyndoel van volhoubare produksie van hoë gehalte produkte nadelig kan beïnvloed?

Wat is die invloed van fitosanitêre plae op die samestelling van so ’n program en hoe gemaak met die maksimum residu-limiete waaraan voldoen moet word?

Sitrusproduksie – waarom so baie peste en plae?

Kommersiële sitrusproduksie is ver verwyderd van ’n natuurlike ekosisteem, waar die groot verskeidenheid plantspesies en voordelige en nadelige insekte saamwerk om ’n delikate balans teweeg te bring.

Sitrus word in ’n monokultuur-verbouingstelsel verbou. Dit beteken dat die verskeidenheid plantspesies in ’n sekere geografiese gebied beperk is tot ’n enkele gewas, met die uitsluiting van sommige onkruidspesies, en dalk ’n dekgewas in die paaie tussen die rye. Daar is dus ’n daadwerklike tekort aan verskeidenheid of biodiversiteit, wat veroorsaak dat sekere plae en peste as gevolg van die oorvloedige voedselbron floreer.

Wanneer beheermaatreëls dan toegepas word om te verhoed dat hierdie plae en peste ’n negatiewe invloed op die vrugte se gehalte en kosmetiese voorkoms het, kan die voordelige insekte wat wel in die monokultuur-ekosisteem voorkom nadelig beïnvloed word. Dit kan tot ’n reperkussie-uitwerking lei, waar skadelike organismes in die afwesigheid van natuurlike vyande nog meer floreer.

’n Ondeurdagte plaagbeheer-strategie kan dus maklik  aanleiding gee tot meer bespuitings, hoër kostes en gewasskade.

Fitosanitêre plae

Suid-Afrika is een van die wêreld se grootste sitrusuitvoerders. Dus word die grootste deel van ons kommersiële sitrus vir uitvoere na ander lande geproduseer. Dit kompliseer die samestelling van ʼn aanvaarbare plaagbestuurprogram nog verder.

Twee van die grootste uitdagings van uitvoersitrus is fitosanitêre peste en maksimum residu-vereistes.

Fitosanitêre plae is plae wat nie voorkom in die lande waarheen ons uitvoer nie. Daar is dus streng maatreëls in plek om die verspreiding van dié plae na ander wêrelddele te voorkom. Die lae verdraagsaamheid vir die voorkoms van hierdie peste lei dan noodwendig tot hoër beheerkostes en moontlike markbeperkings.

In ’n goeie plaagbestuurprogram moet daar dus noukeurig gelet word op die voorkoms van hierdie spesifieke plae. Dit moet akkuraat gemonitor, gedokumenteer en beheer word. ’n Goeie moniteringstelsel is dus ’n vereiste vir elke sitrusprodusent om marktoeganklikheid en ingeligte besluitneming te verseker.

Chemiese residubestuur

Die bestuur van chemiese residuvlakke in vrugte is die ander aspek van sitrusproduksie wat toenemend aandag geniet. Die eindverbruiker en aankopers van vars produkte vereis toenemend so min as moontlik chemiese residu op vrugte. Dit sluit in die hoeveelheid aktiewe bestanddele, asook die waarde van elke aktiewe bestanddeel. ’n Aktiewe bestanddeel is die deel van ’n chemiese produk wat aan die produk sy plaagdodende eienskappe gee.

Wanneer vrugte chemies behandel word, word ’n chemiese residu gewoonlik slegs in die vrug se skil agtergelaat. Elke land het ’n vooraf goedgekeurde maksimum residu-limiet vir elke aktiewe bestanddeel. Dit is die hoeveelheid van ’n aktiewe bestanddeel wat op ’n vrug mag agterbly ten tye van oes, wat nie skadelik vir mens of dier sal wees nie.

Die beperking van die hoeveelheid aktiewe bestanddele maak dit nog moeiliker om ’n kosmeties aanvaarbare vrug te produseer.

Die ontwikkeling van plaagbeheerprodukte is onderhewig aan baie streng wetgewing oor die uitwerking daarvan op mense en die omgewing. Dus raak produkte meer spesiespesifiek, wat daartoe lei dat laer dosisse en korter onthou-
dingsperiodes gewoonlik nodig is om die werk te doen. Dit bly egter ’n uitdaging om ’n gesonde vrug sonder kosmetiese defekte te produseer en steeds aan die sekondêre markvereistes van verlaagde limiete – selfs laer as die aanvaarbare limiete – te voldoen.

Dit is dus van die uiterste belang dat plaagbeheerstrategieë volgens ’n verwagte residu-profiel opgestel word om seker te maak dat aan die markspesifieke vereistes voldoen word.

Wenke aan produsente

Om die voordele van ’n bekostigbare, doeltreffende en volhoubare plaagbeheerstrategie werklik te benut, moet produsente kyk na die implementering van ’n geïntegreerde plaagbeheerstelsel waar kulturele, biologiese en chemiese beheeropsies aangewend word om die gewenste resultate te lewer. Op dié manier kan die gebruik van chemie tot die minimum beperk word.

Die begin van enige doeltreffende en verantwoordelike plaagbeheerprogram is doeltreffende spuittoerusting en akkurate toediening.

Implementeer ’n doeltreffende plaagmoniteringstelsel wat aan die regulatoriese vereistes voldoen en goed  bestuur kan word. Dit moet tot die neem van ingeligte besluite met betrekking tot plaagbestuur bydra.

Beplan hierdie plaagbeheerstrategie vroegtydig saam met jou adviseurs en uitvoerders. So kan die hoeveelheid en vlakke van aanvaarbare chemiese residu bepaal word vir die markte waarvoor jy produseer.

Kies ’n betroubare vennoot wat jou kan help met die opstel van ’n goed deurdagte en kostedoeltreffende plaagbeheerstrategie waar ’n holistiese benadering gevolg word, met volhoubare gehalte en hoeveelheid
produksie as einddoel.