Verstaan jy jou watergebruiksregte?

Chantal Forssman

Deur Roelf van der Merwe (VanderMerwe en Robertson Ing. Prokureurs) en Advokaat André la Grange SC

Suid-Afrika is ’n waterarm land en daarom is dit van kardinale belang dat landbouers, en veral besproeiingsboere, op hoogte moet wees van die presiese omvang van hul reg of aanspraak op die gebruik van water.

In hierdie verband moet daarop gelet word dat die bepaling van watergebruiksregte deesdae geskied met verwysing na die datum waarop die Nasionale Waterwet van 1998 (“die Water- wet”) in werking getree het. Hierdie wet het die 1956 Waterwet herroep en het ’n ingrypende nuwe bedeling vir die gebruik van water daargestel.

Ingevolge die Waterwet vestig die reg op alle water in die Staat en word die reg om water te gebruik vanaf die datum van inwerkingtreding daarvan (behalwe vir sekere uitsonderings waarna hieronder verwys sal word) geregu- leer deur tydelike lisensies wat deur die Staat uitgereik word ooreenkomstig die beginsels wat in die Waterwet neergelê word.

Basiese konsepte van die vroeëre waterreg, soos die regte van oewereienaars en die onder- skeid tussen private water en openbare water, is met die koms van die Waterwet van die tafel gevee. Waar watergebruiksregte voorheen aan die grondstuk van die reghebbende gekoppel was (wat beteken het dat ’n eienaar van oewer- grond, bloot uit hoofde van sy eienaarskap daarvan, ’n aanspraak op water uit ’n openbare stroom kon gehad het), kan iemand nou slegs aanspraak maak om water te gebruik indien die gebruik kragtens die Waterwet toelaatbaar is. Waar watergebruikslisensies reeds ingevolge die Waterwet aan ’n landbouer toegestaan is, kan die omvang van die gebruiksregte en die voorwaardes waaraan dit onderworpe gestel is, met relatiewe gemak en sekerheid deur ’n plaaseienaar of ’n voornemende koper vasgestel word.

Wat betref ongelisensieerde watergebruiks- regte, is die posisie egter kompleks.

Die Waterwet maak voorsiening vir ’n reg op toegang tot drinkwater, water vir huishoudelike gebruik, water vir gebruik vir klein tuinmaak of beperkte gebruik vir veesuiping. Hierbenewens word die gebruik van beperkte volumes water soos neergelê en omskryf in algemene mag- tigings wat van tyd tot tyd van owerheidsweë afgekondig kan word, geoorloof. Hierdie tipe magtigings is egter van beperkte omvang en meestal gemik op kleinskaalboerdery.

Gesien vanuit die hoek van kommersiële boer- dery, maak die Waterwet (in die geval van onge- lisensieerde gebruike) deur die invoer van die begrip van “bestaande wettige watergebruike” egter voorsiening vir ’n belangrike kontinuïteit met die vorige bestel van waterregte.

Op die keper beskou kom dit daarop neer dat die Waterwet die voortgesette gebruik van besproeiingswater deur ’n grondeienaar of sy regsopvolger toelaat mits daardie gebruik wettig was en plaasgevind het op enige tydstip gedurende die twee jaar wat 1 Oktober 1998 onmiddellik voorafgegaan het – met dié voor- behoud dat die beskerming beperk word tot die wyse waarop, die doel waarvoor en die mate waartoe die watergebruik inderdaad oor daar- die twee jare uitgeoefen is. Vir die leek kan die effek van die tersaaklike bepalings van die Water- wet miskien ten beste verduidelik word deur dit met die “use it or lose it” reël van rugby te vergelyk – dit wat jy nie inderdaad gebruik het tydens daardie twee jare nie is verlore.

Die omvang van ’n grondeienaar se reg om water te gebruik onder die vaandel van die voortsetting van ’n bestaande wettige water- gebruik is gevolglik uit en uit ’n feitevraag – wat beantwoord moet word met verwysing na die feitelike situasie wat bykans 24 jaar gelede geheers het. Die vraag is boonop tweeledig:
(a) hoe, waarvoor en tot watter omvang het die grondeienaar sy water tydens die tydperk 1 Oktober 1996 tot 30 September 1998 gebruik
(b) was die volle omvang van sy gebruik gewettig ingevolge die toe-heersende water- bestel (wat deur die 1956 Waterwet gereël is)?

Die tergende probleem is natuurlik hoe plaas- eienaars of voornemende plaaskopers te werk moet gaan om te bepaal wat die omvang van die bestaande wettige watergebruike is wat ingevolge die Waterwet aan hul eiendomme of die eiendomme waarin hulle belangstel, kleef. Die Waterwet maak voorsiening vir ’n proses wat verg dat die omvang en wettigheid van ’n watergebruiker se bestaande watergebruike deur die verantwoordelike gesag bevestig (of geverifieer) word. Dit behels dat die waterge- bruiker dan by die afhandeling van die proses van ’n sertifikaat voorsien word waarin die omvang en wettigheid van sy bestaande wettige watergebruik aangegee word. Die probleem is egter dat die verifikasie-proses tot nog toe nie heeltemal op dreef gekom het nie en dit in groot dele van ons land nog nie afgehandel is nie. Finale verifikasie-sertifikate wat as stawing van bestaande wettige watergebruike kan dien is gevolglik nie geredelik beskikbaar nie.

In gevalle waar die watervoorsiening deur be- middeling van eertydse besproeiingsrade of watergebruikersverenigings (wat kragtens die Waterwet tot stand gebring is) geskied, word die nagaan van watergebruiksregte tot ’n mate vergemaklik deur die feit dat daar waarskynlik rekords van die geskeduleerde of ingelyste watertoekennings ten opsigte van die eiendom ter sprake beskikbaar sal wees.

Waar die verifikasie-proses egter nog nie gefinaliseer is nie en waar die eiendomme
ter sprake buite die jurisdiksiegebiede van be- sproeiingsrade of watergebruikersverenigings val, is die plaaseienaar of voornemende koper ongelukkig aangewese op historiese oorlewe- ring omtrent die aard, omvang en wettigheid van die watergebruik.

In hierdie verband moet daar gewaarsku word dat argaïese geregistreerde serwituut-ooreen- komste of titelaktes van plaaseiendomme waarin waterregte opgeteken staan en toege- ken is, nie noodwendig deurslaggewend sal wees nie – aangesien die watergebruiker se be- skermde gebruiksregte beperk word tot dit wat fisies tydens die twee jaar periode uitgeoefen is.

’n Ander strik waarin grondeienaars of kopers geneig is om in te trap is om inligting wat weergegee word in watergebruik-registrasie- sertifikate wat deur die owerhede uitgereik is, as verteenwoordigend van die eiendomme se bestaande wettige watergebruike te aanvaar.

Onthou dat sulke registrasiesertifikate (wat algemeen bekend staan as die “WARMS regis- trasies”) bloot watergebruikers se eie siening omtrent die omvang van hul bestaande wettige watergebruik verteenwoordig. Daar kan gevolg- lik nie daarop peil getrek word ten einde die bestaan van die gebruiksreg te ondersteun nie.

Soos uit die voorafgaande bespreking afgelei kan word, is dit dwingend noodsaaklik dat die ondersoek wat nodig is om die aard en omvang van ’n plaaseiendom se watergebruiks- regte met redelike sekerheid vas te stel, deur ’n kundige op die gebied van die waterreg gedoen moet word.