Vrotpootjie verbeterde beheer nou moontlik

Laeveld Agrochem

Vrotpootjie verbeterde beheer nou moontlik

Vrotpootjie kom wyd in alle koringproduserende gebiede van Suid-Afrika voor, maar veral in die Oos-Vrystaat, Wes-Kaap en die besproeiingsgebiede rondom die Sandvet, Oranjerivier, Rietrivier en Vaalharts.

Gedurende 2010 se koringseisoen het Bayer (Pty) Ltd ’n registrasie ontvang om Galmano Plus® (Reg. No. L 8524, Wet 36 van 1947) op koring in Suid-Afrika te bemark.  Die produk is geregistreer vir die beheer van vrotpootjie (Gaeumannomyces graminis var tritici) en blaarroes (Puccinia triticina) op koring. Daar word beplan om die aanwendings verder uit te brei.

Simptome van Vrotpootjie

Tipiese simptome van vrotpootjie is die kenmerkende verskyning van wit are tydens blomtyd. Hierdie wit are kan verspreid of in kolle in ’n land voorkom.

Omdat wit are ook tiperend is van ander oorsake as vrotpootjie, moet plante eers noukeurig ondersoek word om seker te maak dat dit wel die geval is.  Ander oorsake van wit of gedeeltelike wit are en / of dowwe are mag die volgende wees: Fusarium kroonvrot, Fusarium aarskroei, koue en droogte gedurende spesifieke groeistadiums.

Wanneer ’n vrotpootjieplant uitgetrek word toon dit ’n baie swak wortelstelsel wat baie maklik afbreek, die wortels is swart verkleur en die stambasis het ’n bruin tot swart verkleuring.  Hoe natter die grondtoestande, hoe donkerder sal hierdie verkleuring wees.  Kroonvrot se simptome is baie dieselfde met dié verskil dat die wortelstelsel nie die tipiese swart verkleuring het nie.  ’n Pienk swamgroei word soms aan die basis van die plant op die stingels waargeneem.

Beheer

  • Tot op hede was die chemiese beheer van vrotpootjie redelik wisselvallig.  Met die registrasie van Galmano Plus is daar nou ’n saadbehandeling beskikbaar wat konstante goeie beheer van vrotpootjie verskaf.  Navorsing het getoon dat Galmano Plus meer as twintig biotipes van die vrotpootjie-patogeen doeltreffend beheer.
  • Die beste beheer van vrotpootjie behoort verkry te word wanneer ’n holistiese  benadering gevolg word en waarin Galmano Plus deel uitmaak van die totale beheerstrategie. Dit sal onder meer behels dat spesiale aandag gegee word aan kwessies soos gewasrotasie met mielies, sonneblom, kanola, rog en hawer.
  • Waar moontlik behoort ’n rotasie met sojabone of lusern vermy te word, aangesien  dit die mangaanvlakke in die grond verlaag. Ander beheermaatreëls sluit die volgende in:
  • Doeltreffende onkruidbeheer van veral grasse gedurende die alternatiewe gewas se groeistadium, aangesien dit as oorlewingsbron kan dien
  • Vermy hoë pH-gronde.
  • Let op die stikstofbron (verkieslik ’n ammonium-tipe).
  • Gee aandag aan die spoorelemente mangaan en sink en verseker dat die beskikbare fosfaat voldoende is vir verbeterde wortelontwikkeling.
  • Vermy toestande soos ’n los saadbed,  swak dreinering en gekompakteerde gronde.
  • Swak saad kan bevorderlik wees vir vrotpootjie-besmettings.

Galmano Plus

Galmano Plus is ’n swamdoder wat deur middel van ’n saadbehandeling op koringsaad toegedien word. Figuur 1 toon hoe aarbesmetting deur Galmano Plus beheer word.

Die produk bestaan uit twee aktiewe bestanddele, naamlik Fluquinkonasool (167 g/l) en Prochloraz (34 g/l). Die koringsaailing word dus deur ’n produk beskerm wat sistemiese en kontak-eienskappe bevat. Die produk het ’n drieledige werking deurdat dit saadbeskerming, wortelbeskerming en blaarbeskerming aan die plant bied.

Nadat die behandelde saad geplant is, vorm die produk ’n beskermende sone rondom die saad (Figuur 2). As gevolg van die gebalanseerde verhouding tussen die produk se wateroplosbaarheid en grondabsorpsievermoë, word verseker dat Galmano Plus nie gou uit hierdie sone loog nie. Dit is egter wel gemaklik deur wortelopname vir die plant beskikbaar.

Behalwe vir Galmano Plus se direkte invloed op die vrotpootjieswam, het dit ook’n indirekte invloed deurdat dit die endodermale selwande van die vaatbundelweefsel in die wortels laat verdik. Daardeur word dit moeiliker vir swamdrade om die vaatbundels te penetreer.  Onbesmette vaatbundels het tot gevolg dat die vloei van vog en voedingstowwe na die plant nie belemmer word nie.

Vrotpootjie word ook op natuurlike wyse deur voordelige grondorganismes onderdruk. Galmano Plus benadeel nie die bakteriese organismes nie.

Galmano Plus kan deur korrek gekalibreerde saadbehandelingstoerusting toegedien word wat ’n eweredige saadbedekking sal verskaf. Die produk word teen ’n dosis van 450 ml / 100 kg saad aangewend. Dit word in ’n verhouding van 1:1 met water gemeng, sodat ’n totale emulsie van 900 ml per 100 kg saad verkry word.

 

Bronnelys

DE VILLIERS, C., TOLMAY, V., 2010.  Vrotpootjie in koring: Let op na gewasrotasie, oesreste en kunsmis.  Artikel in Koringfokus, Mei/Junie 2010.

SCOTT, D.B., 1990.  Wheat diseases in South Africa.  Department of Agricultural Development. Pretoria.

Vir meer inligting kontak ‘n Laeveld Agrochem agent.

Vind u naaste agent by www.laeveld.co.za of 012 998 5909.