Water: Hoe lank nog voor ons droogloop?

Nici De Beer

Deur Hennie du Plessis
Besigheidsbestuurder
Laeveld Agrochem

laeveld_agrochem

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heelte- mal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.” – Genesis 1:1-2

Daar was dus van die begin af water gewees. In vers 6 lees ons dat God die waters van mekaar geskei het. Sonder God en sonder water sal daar geen lewe wees nie. Daar word geglo dat water noodsaaklik was in die Skepping, maar ook om lewe ná die Skepping te onderhou.

Wetenskaplikes glo dat die waarskynlikheid van lewe sonder water feitlik nul is. Selfs die Amerikaanse Ruimte-agentskap (NASA) se soeke na buite-ruimtelike lewe volg ʼn eenvoudige strategie, naamlik: “Volg die water.”

Water gee lewe, maar terselfdertyd kan dit ook dood veroorsaak. Sonder skoon water kan niemand of niks oorleef nie. Aan die ander kant van die muntstuk kan genoegsame besoedelde water katastrofies vir lewe wees. Besoedelde water is verantwoordelik vir ongeveer 631 000 sterftes jaarliks van kinders onder die ouderdom van vyf jaar oud (11). Dit laat die uitkyk op lewegewende water ietwat anders lyk.

Suid-Afrika is alombekend as ʼn waterskaars land, hoofsaaklik as gevolg van die land se oneweredige reënvalverspreidingspatrone, wat wissel van so min as 100 mm per jaar in die weste van die land tot so hoog as 1 500 mm in sommige oostelike dele van die land. Die gemiddelde reënval in Suid-Afrika is ongeveer 450 mm per jaar, wat baie minder is as die wêreld se gemiddelde reënval van 860 mm per jaar. Verder is die verdampingsverliese soms hoër as die presipitasie deur reën (3). Suid-Afrika word gereken as die 30ste droogste land ter wêreld, en daarom is dit noodsaaklik om afloopwater te stoor om aan die land se totale waterbehoeftes te voldoen. Volgens die Departement van Water en Sanitasie is daar ongeveer 850 groot opgaardamme in Suid-Afrika.

Groot damme word gereken as damme met ʼn walhoogte van 15 meter en hoër, of wat ʼn stoorkapasiteit van 3 miljoen kubieke meter (m³) water of meer het. Hierdie 850 damme se gesamentlike stoorkapasiteit is ongeveer 31 biljoen m³ water. Meer as tweederdes van Suid-Afrika se jaarlikse afloopwater word in hierdie damme gestoor.

Die gemiddelde per kapita waterverbruik in Suid-Afrika is ongeveer 237 liter per persoon per dag. Dit is 64 liter per persoon meer as die wêreldgemiddeld van 173 liter per persoon per dag, en dit vir ʼn waterskaars land soos Suid-Afrika (4).

Die landbousektor in Suid-Afrika word as die groot sondebok beskou as dit by waterverbruik kom. Volgens die Nasionale Water- en Sanitasie- meesterplan Volume 14, gebruik die landbou- sektor ongeveer 61% van die land se totale water, gevolg deur munisipale en huishoudelike gebruik met 27%. Die oorblywende 12% word onderskeidelik deur bosbou, mynbou, industrieë, kragopwekking, lewendehawe en natuurbewaring gebruik (Figuur 1).

Alhoewel landbou die meeste water gebruik, is hierdie sektor nie net noodsaaklik vir voedselsekuriteit nie, maar ook belangrik vir die land se bruto binnelandse produk.

Verder is die landbousektor baie belangrik vir werkskepping. Volgens Dempers et al. (2021) was die werkloosheid in Suid-Afrika teen die derde kwartaal van 2021 ongeveer 35%. Die landboubedryf het 829 000 mense werk gegee, wat 5,8% van die totale werksmag uitmaak.

Verder is ongeveer 8,5 miljoen mense direk of indirek afhanklik van landbou vir werk en/of ʼn inkomste vanaf landbou (4).

Die geleidelike styging in werkloosheid het ʼn bevolkingsmigrasie vanaf landelike gebiede na stedelike gebiede veroorsaak. Volgens die Departement van Water en Sanitasie(3) het onge- veer 20% van die bevolking die afgelope tien jaar van landelike gebiede na stedelike gebiede migreer. Dit plaas nog meer druk op die voorsiening van genoegsame skoon drinkwater in munisipale gebiede.

Na beraming sal Suid-Afrika teen 2030 ʼn water- tekort van ongeveer 17% beleef as gevolg van toenemende huishoudelike en industriële verbruik. Wat die munisipale en huishoudelike waterverbruik betref, is die vermorsing van water astronomies. Ongeveer 35% tot 37% van ons drinkwater gaan verlore, hoofsaaklik as gevolg van stukkende toevoerpype, swak onderhoud, vandalisme en diefstal.

Dit is gelyk aan ongeveer 4,3 miljoen swembaddens se water per jaar – genoeg om ʼn derde van die Gariepdam (die grootste dam in Suid-Afrika) te vul. Hierdie onnodige waterverlies kos nagenoeg R7,2 miljard per jaar (5).

Dit is egter is nie net die munisipale vermorsing van water wat kommer wek nie, want indringer- plante en verklaarde onkruide is ook luukse verbruikers van grondwater. Volgens Le Maitre et al. (2020) is indringerplante verantwoordelik vir 1,4 tot 2,4 biljoen m³ waterverliese per jaar (8).

Dit is genoeg water om ongeveer 3,3 miljoen huishoudings met vier persone elk vir een jaar lank van water te voorsien, om nie eers te dink hoeveel hektaar voedsel ons met dié water kon produseer nie. Hierdie indringerplante plaas ook geweldige druk op ons natuurlike vleilande soveel sodat 65% van ons vleiland-ekosisteme bedreig word (9).

Hoewel landbou in Suid-Afrika 61% van die land se totale water gebruik, is slegs ongeveer 12% van Suid-Afrika se totale oppervlakte bewerkbaar en slegs 3% word as “vrugbare grond” gereken. Slegs 1,5% van die land is onder besproeiing (3). Die landbousektor word toenemend onder druk geplaas om besproeiingswater spaarsamiger en doeltreffender aan te wend, sodat meer water aan ander sektore soos industrieë en huishoudelike gebruikers toegeken kan word.

Daar word dus van landbouprodusente verwag om minder water te gebruik, maar om steeds meer voedsel vir ʼn groeiende bevolking te produseer (10).

Besproeiingskedulering is een van die doeltreffendste metodes om besproeiingswater optimaal te benut. Daar is verskeie besproeiingskeduleringshulpmiddels wat gebruik kan word. Laeveld Agrochem en Agri Technovation span saam om hierdie diens aan produsente te lewer. Waterbesparings van tot 20% is al aangeteken sonder dat enige opbrengs nadelig beïnvloed word. Lees gerus die artikel hieroor in GROEI 4 van 2017, bladsy 18.

Die waterverbruiksdoeltreffendheid van landbougewasse word gewoonlik uitgedruk in kilogram produksie per hektaar per millimeter water toegedien (kg/ha/mm). Dit sluit net die direkte gebruik van water in, met ander woorde die hoeveelheid water wat besproei word om ʼn sekere massa opbrengs te realiseer. Dit gee ʼn aanduiding hoe doeltreffend sommige gewasse water in voedsel kan omskakel.

Wanneer ons na die totale waterverbruik oor die hele waardeketting kyk, verwys dit na die sogenaamde watervoetspoor. Dit is ʼn ander benadering om die totale waterverbruiksdoeltreffendheid van bv. groentes, grane, vrugte en verwerkte produkte met mekaar te vergelyk. Die watervoetspoor is dus ʼn aanduiding van die totale hoeveelheid water (direkte en indirekte gebruik) wat deur ʼn verbruiker, produsent of produk benodig word. Sitrus se watervoetspoor sluit byvoorbeeld in die hoeveelheid water besproei, die hoeveelheid water gebruik tydens gewasbeskermingsbespuitings en die wasproses in pakhuise, asook die water wat vir die vervaardiging van die verpakkingsmateriaal gebruik is. Verder sluit dit ook in die hoeveelheid water wat nodig is om pakhuise en spuit- toerusting ná gebruik skoon te maak.

Die watervoetspoor word in drie kategorieë ingedeel, wat nie hier bespreek gaan word nie. Lees “The water footprint assessment manual: Setting the global standard”, deur Arjen Y Hoekstra, Ashok K Chapagain, Maite M Aldaya en Mesfin M Mekonnen (1).

In Tabel 1 word voorbeelde van sekere gewasse en ʼn paar verwerkte voedselsoorte se watervoetspoor aangedui. Dit is opmerklik dat daar redelike verskille tussen gewasse is in terme van elkeen se watervoetspoor. Wat verwerkte produkte betref, is dit duidelik dat die watervoetspoor redelik groot is. Wie sou kon dink dat 1 259 liter water benodig word om ʼn groot Margherita pizza te maak, en 50 liter water om een snytjie brood te produseer? ʼn Mens kan ook sien dat diereprodukte baie meer water benodig vir produksie, byvoorbeeld 4 625 liter water is nodig om ʼn 300 g biefstuk te produseer. ʼn Mens sal daardie biefstuk in die restaurant nou baie meer waardeer en nie kla as dit effens taai is nie.

As ‘n paartjie byvoorbeeld gaan uiteet en hulle bestel elkeen ʼn biefstuk en skyfies, twee biere en twee glase wyn, is die totale watervoetspoor ongeveer 10 000 liter water. Dit is genoeg om 1 hektaar met 1 mm water te besproei, of ʼn gemiddelde grootte tuin in Pretoria (20 m x 20 m) met 25 mm water te besproei. Dit laat ʼn mens dink.

Volgens Laubscher (7) is daar waterslim lande wat hul watervoetspoor laag probeer hou deur waterintensiewe produkte eerder in te voer as om dit self te produseer. Só word druk op hul binnelandse varswaterbronne verlig. Slegs 10% van die Chinese se watervoetspoor is ekstern, teenoor 20% van die Verenigde State van Amerika en 77% van Japan s’n.

Hoewel dit baie veralgemeen is, gee dit niete min ʼn aanduiding van hoe verbruikspatrone verskil op grond van nasionaliteit, geslag, eetgewoontes en inkomstevlak.

Om te oorleef, sal alle sektore genoodsaak word om water spaarsamiger te gebruik. Die wêreldwye aanvraag na varswater styg jaarliks. Daar word geprojekteer dat die globale wateraanvraag teen 2050 met 55% sal styg, hoofsaaklik as gevolg van groeiende eise vanweë vervaardiging, bevolkingsgroei, huishoudelike verbruik en termiese elektrisiteitsgenerering (5).

Water is ons waardevolste natuurlike hulpbron en ons moet almal saam bydra om die volhoubare gebruik daarvan in ons land te verseker. Saam boer ons vooruit, saam spaar ons water.

Bronne:

  1. Arjen Y Hoekstra, Ashok K Chapagain, Maite M Aldaya en Mesfin M 2011. The water footprint assessment manual: Setting the global standard.
  2. Dempers C, Joubert C, & Tempia 2021. An update on selected macroeconomic indicators. Published by the
  3. National Agricultural Marketing Council (NAMC).
  4. DWS, 2017. Department of Water and Sanitation. Strategic overview of the water sector in South Africa 2017. Pretoria, South African Government.
  5. DWS, Department of Water and Sanitation. National Water and Sanitation Master Plan Volume 1.
  6. Jones 2016. Die Burger [http://www. netwerk24.com/Stemme/Aktueel/dit-is-al-wat-ons-het-20160321].
  7. Kruisgewys: Water is lewe (Julie 2106). Uitgegee deur Bybel
  8. Laubscher K, 2017. Water is die nuwe normaal in terme van ontwikkeling en groei. Dr Kobus Laubscher, 26 Julie 2017, OFM lees en https://www.ofm.co.za/article/news/247427/dr-kobus-laubscher-water-is-die-nuwe-normaal-in-terme-van-ontwikkeling-en-groei.
  9. Le Maitre DC, Blignaut JN, Clulow A, Dzikiti S, Everson CS, Görgens AHM & Gush MB, Impacts of plant invasions on terrestrial water flows in South Africa. In: Biological Invasions in South Africa, bl. 431-457.
  10. National Biodiversity Assessment, 2011: An assessment of South Africa’s biodiversity and ecosystems. Synthesis https://www.researchgate.net/publication/280941949.
  11. Steyn JM, 2017. Besproeiing van aartappels 1: Hoe groot is aartappels se watervoetspoor?, Universiteit van Pretoria. http://www.potatoes.co.za/SiteResources/documents/Besproeiing%20van%20aartappels%201.pdf.
  12. WHO, World Health Organisation. News release, 6 March 2017, GENEVA.